Kontak Besonderhede


Faks: 044 691 3179
Tel: 044 691 2247
Sel: 082 563 1747
Epos: hspunt@mweb.co.za
Web: www.pointhighschool.co.za
HOËRSKOOL PUNT
POINT HIGH SCHOOL

NATUURLEWESTAP: JONKERS (AUG 2017)

 

Rondebossie - Diepwalle

Vrydagmiddag vertrek 31 brawe kandidate saam met Juffrou Nel na Rondebossie-hut vir die afskop van n heerlike naweek voor die toetsreeks  begin. Die aand word daar vuur gemaak, gebraai, "flap jacks" gebak en lekker gesels.

Saterdagoggend is almal wakker en reg vir die 13 kilometers tot by Diepwalle-hut. Vroegoggend is almal  vol moed vir die lieflike Jonkersberg wat voorle. Al die agterosse kom darem in die kraal en ons rus heerlik bo-op Jonkers terwyl ons die pragtige uitsig geniet. Ons het net na 12:00 by die plek waar ons middagete sou geniet, aangekom en lekker gerus. Na middagete is almal weer vol moed vir die laaste paar kilometer. Die laaste deel was maar warm en die pad wou nie einde kry  nie. As dit nie vir al die water en "energy bars" was nie, sou ons dit waarskynlik nie gemaak het nie. Ons arriveer toe by Diepwalle-hut, reg vir ons warm stort, maar ongelukkg vir die meisies, moes hulle wag totdat juffrou Nel klaar gestort het voor hulle die lafenis kon geniet. Die aand is daar heerlik gekuier en daar was selfs 3 kandidate wat dwarsdeur die nag gesels het.

Sondagoggend het almal om kwart oor sewe op aandag gestaan, reg om huis  se kant toe te vertrek waar die skoolboeke gele en wag het. Die naweek was waarlik onvergeetlik met al die gees, stories en ge-etery. Baie dankie aan juffrou Nel vir al haar moeite en geduld.

Aangeheg fotos van die "dapper-stappers".

 

Geskiedenis /History

Die natuurleweklub van Hoërskool Punt is in 1982 deur Mnr Theo Oosthuizen, ‘n biologie onderwyser, gestig. Juffrou Christa Buitendach het daarna by hom oorgevat  tot 2012. Tans is Juffrou Nel en Juffrou Hurford in beheer van die aktiwiteite.

Die doel van die klub is om leerders bekend te stel aan die aktiwiteite in die natuur, ‘n liefde te kweek vir die natuur en hulle omgewingsbewus te maak.

Een van die grootste projekte wat sover aangepak was, was die uitleg van die St. Blaize wandelpad vanaf Danabaai na Mosselbaai.

The club currently has more than 100 members. We normally do 3 different hikes in the first and third term and 1 hike in the forth term. We encourage learners to join this club by completing an indemnity form and paying the R40 club fees. Forms are available in Room 20.

Die leeders wat betrokke raak by die natuurleweklub vorm hegte vriendskappe en sommige leerders het al meer as 12 staproetes saam met die skool gedoen.

GRAAD 8 GORRIE-STAP 2017

Die graad 8-leerders het die stap vanaf Millwood tot by Rondebossie terdee geniet,  en sien uit na hul volgende stap.

Datum vir eerste kwartaal stappe 2017

Die volgende stappe sal in die eerste kwartaal 2017 plaasvind:

20 - 22 Jan - Gr.9 - 12   (Blaaukrans) R280 + R50 ledegeld/jaar

3 - 5 Feb - Gr.8 Gorrie stap (Outeniqua) R150 + R50 ledegeld/jaar

17 - 19 Feb - Gr.8 - 12 (Outeniqua)R150 + R50 ledegeld/jaar (vir die wat nog nie betaal het nie.

Leerders moet hul almal nuwe vrywaringsvorms in K.20 kom haal en invul.

 

Platbos - Millwood 26 - 28 Aug 2016

Die eerste stap van die derde kwartaal was 'n groot sukses. Omtrent 18 leerders het die staptog aangedurf en dit was beslis 'n naweek om te onthou!

 

Platbos - Millwood 26 - 28 Aug 2016

DATUMS VIR DERDE KWARTAAL 2016

26 -28 Aug 2016 - Platbos - Millwood

23 - 25 Sept 2016 - Millwood - Rondebossie

 

Kalander Blauwkrans Jan 2016

Kalander tot Blauwkrans Jan 2016

Bloukrans 2016

Die busse is voor die koshuis geparkeer, gereed om die Tsitsikama binne te vaar, want 22 Januarie is die dag waarna 29 visse al ‘n rukkie lank uitsien. Ons het ons bestemming veilig bereik en ‘n rustige aand by die Kalanderhut deurgebring. Dit is langs die see en ‘n paar brawe siele het die waters trotseer. Die volgende oggend was dit sommer vroeg toe ons die steil gradiënt aanpak van ‘n stewige bultjie. Na ‘n paar hyge en kreune is almal bo en sterk oppad na die middagete kol waar ‘n waterval op ons wag. Ons swem en eet en gesels en ontmoet ‘n verkleurmannetjie en doop hom Chris. Die aand is weereens een vir die boeke met Nutella s’mores, goeie geselskap en ‘n hoendervleisgewende uitsig. Die volgende oggend begin ons reeds 6-uur stap en is daarom sommer vroeg tuis. ‘n Groot dankie aan juf. Nel wat ons weereens die ondervinding gegee het wat ons horisonne verbreed.

DATUMS VIR EERSTE KWARTAAL 2016

Hierdie jaar is daar weer baie geleentheid vir leerders om te gaan stap. Klubgelde is R40 per jaar en elke stap kos R150.  Leerders moet vrywaaringsvorms invul en dit saam met hul stapgelde na K.20 bring.

Senior stap (Gr.9 - 12) (Kalander - Blauwkrans)

22 - 24 Jan 2016 (vertrek so rondom 14:30 en kom Sondag ongeveer 12:00 terug)

Seniorstap (Gr.9 - 12) (Rondebossie  - Diepwalle)

5 - 7 Feb 2016 - (vertrek so rondom 14:30 en kom Sondag ongeveer 12:00 terug)

Gorriestap (Slegs Gr.8 leerders) (Millwood - Rondebossie)

19 - 21 Feb  2016 (vertrek so rondom 14:30 en kom Sondag ongeveer 12:00 terug)

 

Geskenk van ou stapper

Geskenk van 'n ou leerder en ou stapper van PHS

Hierdie twee sakke is deur meneer Patrick Spathelft, 'n oud leerling van Hoërskool Punt, geskenk. Mnr Spathelft was self deel van PHS se natuurleweklub en het baie saam met mnr Theo Oosthuizen gaan stap. Ons is baie dankie oor die bydrae.

Leiers

Nuwe leiers

Die natuurleweklub was bevoorreg  genoeg om die afgelope twee jaar  4 uitstekende leiers te hê. Suené Nel, Stefan Jerling, Danielle Knottenbelt en Markus Meyer het diep spore gelaat. Dankie vir die goeie voorbeeld wat julle vir ons gestel het.

Hulle sal nog saam met die nuwe komitee uithelp tot die einde van die jaar.

Die nuwe komitee se voorsitter is Sumarie Prinsloo, ondervoorsitter is Rouxné van der Westhuizen en dan Mari-Alet Smit, Daniël Claassen, Albertus Truter, Arnu van Wyk, Robyn Mills en Riandi Vermeulen.

8 Maart 2013

Verlede naweek het 52 leerders van Hoërskool Punt in die Knysnabos gaan stap. Die seniors het vanaf Rondebossie tot by Diepwalle gestap onder leiding van juffrou Nel. Die  Gr.8s het  vanaf Diepwalle na Fisantehoek gestap. Baie geluk aan die Gorries wat hulle eerste stap oorleef het!
Dit was al die pad die moeite werd.

NATUURLEWEKLUB

Die Natuurleweklub van Punt Hoërskool het die afgelope naweek hul
laaste uitstappie vir die jaar gehad. Dit was ‘n onvergeetlike naweek by die
vakansieplaas Bonniedale.

Die 40 leerders het in die tentekamp geslaap. Met al die aktiwiteite wat die
plaas bied, was daar nooit ‘n ledige oomblik nie. Vrydag het die leerders die
plaas ontdek – die dam, roeibootjies, trapbootjies, “rock pools”, stappaadjies en
ongelooflike fynbos.

Saterdag, is die ou ossewa-roete gevolg vir ongeveer 8km, tot by die
ongelooflikste “rock pools”, waar ons lekker kon afkoel. Na ernstige oorweging,
is tog besluit om die rivier te volg tot ons weer die pad kry. Dit was natuurlik ‘n
opwindende “bundu-bashing” wat gevolg het – niemand het ongedeerd hiervan
afgekom nie – maar ‘n onvergeetlike stap het ons weer tot by die pad gebring.

Terug by die kamp, was die lekker nog nie verby nie. Oom Gerrit Swart het ons
daar ingewag met ‘n heerlike spanbou van speletjies wat ons nie gou sal vergeet
nie. Daardie aand kon ons nie uitgekuier raak nie en het die kampvuur teen 3 uur
vir die beddens verruil.

Sondag het ons afgesluit met ‘n luilekker gekuier om die dam en die wat nog kans
gesien het vir opwinding het die “foefie-slide” aangedurf.

Die nuwe komitee is ook aangewys. Ons sê dus baie geluk aan Stephan Jerling
en Suene Nel wat gaan voorvat, saam met Jasmine Botha, Daniëlle Knottenbelt,
Markus Meyer, Carmen Barnard en Sane Venter. Ons sien uit na 2012!!

Baie dankie ook aan die personeel wat ons vergesel het: Me. Christa Buitendach;
Me. Monica Visser (vir oulaas); Oom Cyril Knottenbelt; Tannie Paula en Oom
Gerrit Swart.